Vroue-aarbeiboer pluk vrugte van sukses in Patensie

– Bianca Henning, ProAgri

Aarbeiboerdery verg moed, geduld, arbeid en baie deursettingsvermoë. Madelé Ferreira, vroueboer van Mooihoek-boerdery in die Gamtoosvallei in die Hankey-distrik, het met 5 000 aarbeiplantjies begin. Vandag is hulle een van die voorste verskaffers van aarbeie in Suid-Afrika. Geloof en toewyding voer dié boerdery tot groot hoogtes!

Van predikantsdogter tot boer

“My pa is ՚n predikant, maar my oupa was boer, en dit is maar waar my liefde vir die boerdery gekweek is. Reeds sedert ek ՚n klein dogtertjie was, was my grootste droom om met ՚n boer te trou … en toe word my droom so waar as vet waar. Ek is nou 32 jaar met my man (boer) Johan getroud,” vertel Madelé opgewonde.

“Ek het nog altyd die ambisie gehad om my eie volhoubare saak op die been te bring, maar nooit gedink dat ek eendag self sou boer nie,” voeg sy by. “Ons boer op ՚n familieplaas wat al vir drie geslagte in die familie is. Die oorspronklike plaas van die boerdery is vanjaar honderd jaar in die familie.”

“Die lewe het maar ՚n paar wilde draaie met ons gemaak. My man en sy pa het aanvanklik met groente geboer. Johan het so bietjie met aarbeie geëksperimenteer, maar later nie meer kans gesien om met die aarbeie wat op kleinskaal verbou was aan te gaan nie,” deel sy.

Vasberade het Madelé ingespring voordat Johan die land omploeg. Vanaf die eerste 5 000 aarbeiplantjies in haar kwynende roostuin, tot een van die voorste verskaffers in Suid-Afrika, pluk sy vandag die vrugte van harde werk.

“Vandag trek ons so kort duskant eenmiljoen plantjies. Oor die jare heen het die saak gegroei van waar ons aan die munisipale mark begin lewer het tot waar ons vandag aan die groot kettingwinkelgroepe in die Oos-Kaap plaaslik verskaf, asook nasionaal en uitvoer na die Midde-Ooste,” vertel Madelé.

Om te boer met ’n tikkie geloof

“Daar het ՚n behoefte vir ՚n plaaslike aarbeiprodusent in die Oos-Kaap ontstaan aangesien die naaste verskaffer 300 km verder was. Ons het die gaping in die mark raakgesien en die geleentheid aangegryp. Ons is vandag baie dankbaar vir al die geleenthede wat oor ons pad gekom het, en dat ons oor die jare heen sulke goeie verhoudings met die kettinggroepe kon opbou, ten spyte van al die uitdagings. Dit is alles net genade van bo,” voeg Madelé by.

“Ek het my boerderytjie vanuit ՚n vierdeurmotorhuis begin en is vandag trots om te sê dat ons ՚n wêreldklas pakhuis het vanwaar alles bedryf word, en wat ook op HACCP-standaarde geskoei is,” sê sy.

Spinasie het oor die jare ook deel gevorm van Mooihoek-boerdery se produkte, sodat die boerdery vandag uit 75% aarbeiproduksie en 25% spinasieproduksie bestaan.

“Ons produseer ook spinasie wat verpak en voorsien word aan die ketingwinkelgroepe. Ons het ‘n 25 Ha Agrico spilpunt waaronder die spinasie besproei word,” sê Madelé.

Die Mooihoek-boerderyspan bestaan tans uit 110 permanente personeellede, en gedurende piekseisoentye stel hulle 180 tot 200 seisoenale personeellede aan.

’n Hoë-adrenalien uitdaging vir ’n hoë-energie vrou

Aarbeie word vroeg soggens gepluk en direk daarna in ՚n ontvangskoelkamer gestoor, sodat die aarbeie so koud as moontlik verwerk en verpak kan word. Die pakhuis en koeltrokke se tempera-tuur moet dieselfde gehou word om gehalte en raklewe van die aarbeie te verseker.

“Die grootste uitdagings van die bedryf is na my mening die geweldige hoë insetkoste en die risiko’s wat ՚n mens in die gesig staar omdat ՚n aarbei nie ’n lang raklewe het nie. Aarbeiboerdery is eintlik niks anders as arbeidboerdery nie,” vertel Madelé skertsend.

Elke jaar word elke liewe plantjie vervang. “Al die plastiek, die druppers, en alles word opgetel – die grond word weer voorberei en jy begin alles weer van voor af,” verduidelik Madelé.

Die ergste droogtes tot kwaai vloede het Mooihoek-boerdery al behoorlik op sy knieë gehad. “Weerstoestande is ook ՚n baie groot uitdaging in ons omgewing, veral vir die aarbeiboer-dery, en aarbeie hou glad nie van uiterstes nie!” sê Madelé.

“Dit bly ՚n hoë-adrenalienboerdery omdat alles vinnig moet gebeur. Genadiglik is ek geseënd met hoë energie-vlakke,” vertel Madelé laggend.

Madelé se passie en dryfkrag

“Ek is mal oor my boerdery. Ek het nog nie een oggend vieruur as my wekker afgaan dit verwens nie. Die geleentheid wat boerdery vir jou bied om vernuwend te wees, ՚n sinvolle bydrae te kan maak en my passie te kan uitleef is werklik ՚n voorreg,” sê Madelé.

“Boerdery leer jou passie, geloof en deursettingsvermoë. Die grootste genot vir my is om die aarbeiplantjies van begin tot eindproses te kweek, te plant, te versorg en te sien groei totdat jy die eindproduk op die rakke met jou handelsmerk op sien. Dit is baie belonend,” vertel Madelé.

“Dit is vir my lekker om ՚n vrou in die bedryf te wees. Om ՚n gaping en geleenthede in die mark te kan sien en mense te bemagtig met jou kennis. Ek glo ՚n vrou se sesde sintuig is haar grootste mededingende voordeel,” voeg sy selfversekerd by.

“Ek kan baie opgewonde raak oor ՚n spuit, ՚n dis en ՚n trekker, net so opgewonde soos wat ek kan raak oor ՚n mooi mat en ՚n mooi rok,” voeg Madelé laggend by.

75% van Mooihoek Boerdery is onder drupbesproeiing van Agrico

Jou variëteitkeuse en die versorging van jou plantjies is uiters belangrik. Waterbestuur is net so belangrik omdat aarbeie sensitief is vir te veel of te min water. Madelé gebruik Agrico se drupbesproeiingstelsel om seker te maak dat die plantjies presies die regte hoeveelheid water kry.

Die grond word met swart seile bedek om seker te maak dat die vog en voedingstowwe in die grond behoue bly en dat en ՚n gunstige mikro-klimaat ten alle tye gehandhaaf word.

“Ons het ՚n geoutomatiseerde PC-drupbesproeiingstelsel van Agrico wat onder die plastiekbedekking geïnstalleer is om die aarbeiplantjies water te gee. Die afgelope agt jaar se droogte het daartoe gelei dat ons waterbestuur tot op die fynste druppel beplan. Dit is ook juis waarom ons presisiebe-stuur inspan om te verseker dat geen plantjie te min of te veel water kry nie.

Die watertoediening word met die geoutomatiseerde stelsel gereguleer. Die water kry ook kunsmis by, so die aarbeie kry daagliks verrykte water.

“Ek doen self die kunsmisbeplanning, die regulering van die kunsmistoedie-ning asook die spuitprogramme en chemiese toediening,” voeg Madelé by.

Madelé sê: “Omdat die aarbeie se waterbehoefte so wissel is dit nie genoeg om deurgaans dieselfde hoeveelheid water per plantjie toe te dien nie. Jou voete en oog moet fisies in die lande wees, maar ons kan werk op ongeveer 250 tot 500 ml water (gedurende hoogsomer) per dag per plantjie.”

“Ek stap al ongeveer twaalf jaar ՚n pad saam met Jaco Van Niekerk, die takbestuurder by Agrico Patensie. Hy is uitstekend in sy werk. Sy kundigheid en ongelooflike professionele diens en kennis vat regtig my boerdery vorentoe. Hy is só behulpsaam en geduldig, veral met my blonde oomblikke wat soms kop uitsteek,” vertel Madelé laggend.

“Diens, verhoudings, kundigheid, ondersteuning en om op hoogte te bly van die nuutste onwikkelinge is in vandag se tye vir boere baie belangrik, en dit is juis waarom ons van Agrico gebruik maak,” voeg sy by.

“Toe ons onlangs ons boorgat moes laat sak, ’n dam bou en pompe laat installeer, het hy vir ons ongelooflike goeie raad gegee en gehelp waar hy kon. Ons is baie dankbaar vir Agrico. Ons sien uit na die pad vorentoe saam met Jaco en die Agrico-span. En as ons ՚n bietjie meer water het, gaan dit nog lekkerder gaan!” vertel sy opgewonde.

Related articles

Agrico in ‘n seisoen van momentum

In hierdie ekslusiewe onderhoud gesels die Andrag-neefs, Walter en Roland, oor Agrico van vandag. Gebou op meer as ‘n eeu se ryk geskiedenis, doen Agrico alles behalwe stagneer. ‘n Groeiende taknetwerk, ‘n poel jong talent en aanhoudende investering in moderne vervaardiging, getuig daarvan. Lees meer oor hierdie twee bedryfsleiers se uitkyk op die landbou, en Agrico se seisoen van momentum!

Read More »

Agrico Vredendal fokus op hernubare sonkrag vir besproeiingstelsels

“Sonkrag is die toekoms en ons visie by Agrico Vredendal is om die tipe tegnologie in besproeiing uit te brei,” sê Roekie Coetzee, takbestuurder van Agrico in Vredendal. “Dit is juis waarom ons reeds venootskappe in sonkrag begin vorm het: sodat ons die boer kan help om daardie omskakeling so moeiteloos as moontlik te maak.”

Read More »