Agrico Vredendal fokus op hernubare sonkrag vir besproeiingstelsels

– Maryna Steyn, ProAgri

In die dorre streke van die Matzikama-distrik is besproeiing ‘n voorvereiste as jy volhoubaar wil boer. Met snikhete temperature en minimale reën kan ‘n boer nie waag om te sukkel met onbetroubare kragtoevoer nie. ‘n Sonaangedrewe besproeiingstelsel bied ‘n praktiese oplossing, en betaal homself boonop sommer gou-gou af.

‘n Handjievol boere buite Vanrhynsdorp het reeds die skuif gemaak na sonpanele.

“Die voordeel van hierdie stelsels is dat boere kan besproei sodra daar genoeg son op die panele val,” verduidelik Riaan Vermaak, besproeiingsontwerper by Agrico Vredendal.

In 2022, het een van hierdie boere, Paul Botha, vir Agrico genader om vyf sonkragprojekte af te skop. Gedurende 2023 is die tweede vyf van die stelsels op Paul Botha se plaas gelewer. Dieselfde jaar het Agrico by Lambrecht van der Westhuizen se plaas ook vyf eenhede gelewer. Verder is drie bestaande stelsels by oom Gert Basson omgeskakel na ‘n kombinasie van sonkrag en die nasionale elektrisiteitnetwerk.

“Altesaam het ons agtien stelsels gelewer en die kapasiteit daarvan wissel. Daar is motors van 18,5, 22, 30, 37 en 45 kW,” sê Riaan.

Wat behels die sonkragstelsel?

“Die sonkragstelsels kan sowel boorgat- as bogrondse pompe aandryf,” sê Riaan. “Ek was in die verlede betrokke by die ontwerp van die besproeiingstelsels. Nou het die klante besluit om bestaande en nuwe pompe oor te skakel na sonkrag weens die uitdagings rondom beurtkrag.

“Die stelsels bestaan uit pompe, sonpanele, hibride wisselrigters (VSD’s), sonpaneelrame en filters. Ons het dit aan die klant voorsien en hy het self ‘n elektrisiën genader om die bedrading te doen.”

Staalrame vir die sonpanele word deur Agrico se fabriek in Lichtenburg vervaardig en ingesluit, maar boere is welkom om hul eie rame te voorsien. Lambrecht en oom Gert het verkies om hulle eie hout- of staalrame te bou, en dit werk ook goed!

Agrico koop die verskillende komponente van die stelsels aan by verskeie verskaffers. “Ons is ingestel daarop om produkte te voorsien wat ‘n balans tussen prys en gehalte handhaaf, en ook versoenbaar is met die bestaande besproeiingstelsel,” vertel hy.

Hibriede stelsels bied veelsydigheid en onafhanklikheid 

Die projekte gebruik WEG hibride wisselrigters afkomstig van Brasilië, wat gereed is om sowel Eskom-krag as sonkrag te gebruik. In die geval waar beide gekoppel is, sal die stelsel eers sonkrag trek. Indien die sonkrag nie genoeg is, sal die stelsel slegs die hoeveelheid wat kort, vanaf die kragvoorsiener trek.

Wanneer slegs aan sonpanele gekoppel, bied dit vir die boer die geleentheid om totaal en al onafhanklik van die kragvoorsiener te wees. In droogtetye kan die boer gedurende die dag besproei en sy verlies in die somer verminder. Verder kan daar ook in afgeleë gebiede besproei word.

Agrico kyk na die toekoms

“Sonkrag is die toekoms en ons visie by Agrico Vredendal is om die tipe tegnologie in besproeiing uit te brei,” sê Roekie Coetzee, takbestuurder van Agrico in Vredendal.

“Veral wanneer die ekonomie begin druk, is die manier om te gaan. Dit is juis waarom ons reeds venootskappe in sonkrag begin vorm het: sodat ons die boer kan help om daardie omskakeling so moeiteloos as moontlik te maak.”

Agrico rig ook hulle fokus op die toekoms van tegnologie. Hulle is tans besig om te kyk na universele rame wat die son deur die dag volg. “‘n Ingeboude motor draai die paneel se aangesig na die son. Dit het ‘n windsensor wat outomaties die panele laat sak wanneer die wind te sterk begin waai.”

Na-verkope ondersteuning is ‘n belangrike punt waarna Agrico ook kyk: met sonkrag moet jy seker wees die verskaffer kan jou ondersteun wanneer ‘n probleem opduik. Agrico is ook in staat om klante te help wat nie Agrico-besproeiingsprodukte gebruik nie. “Ons kan aan alles voldoen, so daar is geen rede om nie na ons te draai wanneer jy jou besproeiing na sonkrag wil oorskakel nie.”

Ook rondom die toekoms van die tak, is daar groot planne vir die toekoms om die potensiaal in die Vredendal-gebied beter te ontgin. “Ons het bymekaar gekom en gekyk na die toekomsplanne van die maatskappy. Vredendal is geselekteer as een van die takke wat binnekort ‘n opgradering gaan kry,” terg hy oor alles wat binnekort by dié tak gaan gebeur.

Related articles

Agrico in ‘n seisoen van momentum

In hierdie ekslusiewe onderhoud gesels die Andrag-neefs, Walter en Roland, oor Agrico van vandag. Gebou op meer as ‘n eeu se ryk geskiedenis, doen Agrico alles behalwe stagneer. ‘n Groeiende taknetwerk, ‘n poel jong talent en aanhoudende investering in moderne vervaardiging, getuig daarvan. Lees meer oor hierdie twee bedryfsleiers se uitkyk op die landbou, en Agrico se seisoen van momentum!

Read More »

Agrico Vredendal fokus op hernubare sonkrag vir besproeiingstelsels

“Sonkrag is die toekoms en ons visie by Agrico Vredendal is om die tipe tegnologie in besproeiing uit te brei,” sê Roekie Coetzee, takbestuurder van Agrico in Vredendal. “Dit is juis waarom ons reeds venootskappe in sonkrag begin vorm het: sodat ons die boer kan help om daardie omskakeling so moeiteloos as moontlik te maak.”

Read More »